Search
  • J.M. van Staden-Slabbert

Die vrolike weduwee beloof om feesgangers by die Suidoosterfees te bekoor

"By AGL Opera is ons leuse 'Creating memories' en die musiek van Die vrolike weduwee is van so ’n aard dat dit nog vir ure en dae later steeds in mens se gedagtes ronddwaal."

Só vertel Johannes van Staden-Slabbert, uitvoerende direkteur van AGL Opera, oor hulle produksie Die vrolike weduwee / The merry widow wat by die Suidoosterfees te sien is.

Na AGL Opera se komiese Die Fledermaus in 2018, is hulle terug met Franz Lehár se operette Die vrolike weduwee / The merry widow.

Hy vertel meer.


Vertel asseblief meer oor Die vrolike weduwee / The merry widow. Wat kan die gehoor te wagte wees?

Die Vrolike Weduwee / The Merry widow is een van die mees bekende operettes in die teatergeskiedenis. Lehár se meesterstuk is die eerste keer op 30 Desember 1905 opgevoer, maar die bekende melodieë, sosiale temas en komiese dialoog bly altyd relevant. In AGL Opera se produksie speel die verhaal af in die Pontevedriaanse Ambassade in Kaapstad. Hier kan die gehoor uitsien na ’n asemrowende en kleurvolle stel met die aksie wat afspeel teen die hange van Tafelberg. Ons idee was om die produksie in die konteks van die Suidoosterfees so relevant en eie aan die Kaap as moontlik te maak.

Die gehoor kan uitsien na van die vernaamste operasangers in die land. Hulle sluit in Johannes van Staden-Slabbert as Danilo, Leah Gunter as Anna Glawari, Raimondo van Staden-Slabbert as die Baron Zeta, Lauren Dasappa as Valencienne, Mzi Nodlayiya as Camille Rosillon en Barend van der Westhuizen as Cascada. Verder het ons ook van die grootste name in die bedryf wat dien as ons artistieke span, met Christine Crouse as verhoogregisseur, Sean Bovim as koreograaf, Albie van Schalkwyk as dirigent en Alfred Rietmann as ontwerper. AGL Opera het ook ’n noue band met die Universiteit Stellenbosch se sangdeparetment en die departement is deel van die opvoering as koor. AGL Opera se dryfkrag is om plaaslike klassieke kunstenaars op te lei en te bevorder. Deur hierdie dryfveer van ons, gee ons graag elke jaar vir US se sangdepartement die geleentheid om die verhoog met professionele kunstenaars te deel. Ons hoop dat ons deur hierdie inisiatief ’n bydrae kan lewer tot die ontwikkeling en bevordering van jong talent in Suid-Afrika.

Eie aan die AGL Opera-tradisie het ons die orkes vervang met twee klaviere, timpani en perkussie. Sodoende behou ons die orkestrale klank van die orkes, maar maak só ’n produksie nommerpas in die konteks van ’n kunstefees. Ons bekwame dirigent, Albie van Schalkwyk, het hierdie orkestrale verwerking geskep. Verder behou ons die AGL Opera-tradisie waar ons opvoerings nooit langer as 90 minute is nie. Ons glo dat ons sodoende die immergewilde melodieë en komiese verhaal aan ons ondersteuners kan bied, terwyl ons die spoed en werkslading van die moderne mens in die 21ste eeu in ag neem. Ons het nie meer noodwendig die tyd om drie ure op ’n aand in die teater deur te bring nie.


Waarom het julle besluit om juis hierdie operette van Franz Lehár aan te pak?

Die musiek. By AGL Opera is ons leuse “Creating memories” en die musiek van Die vrolike weduwee is van so ’n aard dat dit nog vir ure en dae later steeds in mens se gedagtes ronddwaal. Ons verstaan daar is ’n plek in opera en operette vir tragedie, maar ons wil hê ons gehoor moet uit die teater stap met glimlagte op hul gesigte. Ons wil hê ons gehoor moet skaterlag deur die asemrowende melodie. Daarom het ons Merry Widow gekies. Die kombinasie van komedie en musiek … Niks kan kers vashou by Merry Widow nie.


Dit is ’n komiese stuk, nie waar nie?

Dit is korrek, ja. Daar is baie grappe in die oorspronklike teks wat ons behou het, maar gaan so ver om huidige politieke en sosiale kwessies in te bring om die komedie meer relevant en aangrypend te maak.


Watter uitdagings was daar aan verbonde om die produksie op die been bring?

Om opera in die konteks van ’n fees op te voer is op sigself ’n uitdaging. Om daardie groot stelle, kostuums ens gebou en afgebreek te kry in ’n kwessie van twee ure voor die volgende produksie intrek, is maar uitdagend, maar niks wat ons nie kan hanteer nie. Ons is dankbaar dat die Suidoosterfees een van die min kunstefeeste in die land is wat opera wil bevorder en die vooruitgang van die kunsvorm koester.


Vertel asseblief meer oor AGL Opera?

AGL Opera vorm deel van die AGL (Above Ground Level) Groep maatskappye. In hierdie groep dra AGL Opera die verantwoordelikheid van die CSR (Corporate Social Responsibility). Derhalwe is al ons projekte daarop gefokus om ’n bydrae te lewer tot ons samelewing asook die ontwikkeling van jong klassieke kunstenaars in Suid-Afrika. AGL Opera streef daarna om die heeltyd vars en alteratiewe maniere te kry om opera aan die publiek te bied. Soos ek gesê het, ons verstaan dat mense nie meer tyd het om drie ure in die teater deur te bring nie. Daarom is al ons produksies kort en kragtig, maar so gedoen dat niemand eers weet iets is uitgelaat nie. Ons voorsien opera aan die modern mens.


Wat hou die res van die jaar vir julle in?

Na Merry Widow het ons ’n fondsinsamelingsinisiatief, Symphony of Prayers. Hier kom tussen 15 en 20 plaaslike klassieke musikante bymekaar om ’n konsert van gewyde musiek aanmekaar te sit – en almal tree verniet op. Elke konsert se fondse gaan aan ’n gemeenskapsontwikkelingsprojek in die streek van die kerk waarin ons optree. Ons het drie sulke optredes: 13 April in die Paarl, 2 Junie in Helderberg en 6 Junie in Kenridge.

Van 1 tot 7 Julie toer ons met Menotti se eenbedryf komiese opera The old maid and the thiefBloemfontein toe vir die Vrystaat Kunstefees.


Besoek www.aglopera.com vir al die inligting.


.........................................

Die Suidoosterfees vind plaas van 25 April tot 1 Mei 2019 by die Kunstekaapteater in Kaapstad. Die vrolike weduwee / The merry widow speel Saterdag 27 April om 20:00. Vir meer inligting, besoek die Suidoosterfees se webwerf.

5 views

© 2019 AGL Opera

www.aglopera.com | admin@aglopera.com | +27 (0) 71 330 2459​

PROUDLY SUPPORTED BY